
=====================================================================
Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Sport en sports vir joernaliste in Londen

Andr Pretorius vertel van wedervaringe in Londen as verslaggewer in sy moedertaal, Afrikaans.

GEEN wonder die Engelse is skepties oor die hele Europese Unie-besigheid nie. Die Unie het jou wrintiewaar 'n man met 'n van soos 
"Duisenberg" gaan aanstel as hoof van die nuwe Europese Sentrale Bank. Duisenberg, bid jou aan! Van geen Angel-Saksiese tong kan verwag 
word om sin te maak uit di groepering van letters nie: hy s nie r of g nie en ui is 'n vreemde paring.

Die gefladder in die politieke hoenderhok oor hoe om die Hollander se naam uit te spreek het aan ten minste een Afrikaanse joernalis 'n 
prominensie buite verhouding tot sy belangrikheid verleen. The Times se parlementre indrukskrywer, die topjoernalis Matthew Parris, moes 
my opbel om die egte uitspraak te bevestig. In die betrokke debat het politici, van Tony Blair tot onbelangrike agterbankers, elkeen die 
nuwe bankbaas se naam anders uitgespreek. Parris wou met di situasie die draak steek, maar was self nie seker oor die korrekte uitspraak 
nie. Die volgende dag is ek in The Times aangehaal, nie by name nie, maar as die enigmatiese "betroubare bron"!

So het Afrikaans in die vreemde sy voordele. En dit is meer gesofistikeerd as om straffeloos vuil grappe op moltreine te vertel. Wanneer 'n 
mens die eerste keer in jou lewe oor 'n kriekettoets verslag doen en jy beland tussen Jack Bannister en die man van Wisden, dank jy jou 
sterre dat jou telefoniese verslag van agter die veilige skans van 'n vreemde taal gedoen word. Min nuwelinge sal daarna uitsien om hulle 
mening oor die stand van die wedstryd te lug ten aanhore van 'n man wat al 48 jaar sy lewe uit krieket maak.

Die gebruik van 'n vreemde taal in die kommentatorhokkie kan selfs tot onverdiende gelukwense lei. Frankryk se rekordoorwinning oor Wallis 
in vanjaar se laaste Vyfnasietoets op Wembley het die Walliesers stomgeslaan. Die een langs my wou die vernedering verwerk deur die eerste 
naaste Fransman geluk te wens. My uitvoerige gebruik van Afrikaans het vir hom oortuigend na Frans geklink en ek is terstond kragtig op die 
skouer geklop!

Die blote naam van PUNT Geselsradio het al 'n misverstand of twee in die vreemde veroorsaak. Die platboombote wat studente in Cambridge 
gebruik, word "punts"genoem en om daarmee te gaan vaar is om te "punt". My PUNT T-hemp het dus menige Japanse besoeker laat glo ek is een 
van die studentegidse wat toeriste vir "punt"-vaarte neem.

Nog 'n misverstand het met klokke te doen gehad. Ek moes talle verslae inbel van 'n telefoonhokkie voor die St. Paulus-katedraal en soms 
het die reuseklok Great Paul hoorbaar in die agtergrond gegalm. N 'n paar maande wou ek seker maak dit veroorsaak nie 'n probleem nie. 'n 
Kollega het my van die teendeel verseker: om die eerbiedwaardige Big Ben in die agtergrond te hoor, verleen statuur aan my verslag. Ek kon 
dit nie oor my hart kry om haar in te lig oor die verskil van 'n paar kilometer tussen Paul en Ben se standplase langs die Teems nie.

Een van die groot nuusgebeurtenisse van 1997 was die Britse algemene verkiesing, en die beriggewing daaroor het uitdagings van 'n besondere 
aard aan enige anderstalige verslaggewer gebied. Dit was 'n enorme voorreg om die nuus van die politieke omwenteling uit Downingstraat in 
Afrikaans oor te dra op die oggend n die verkiesing.

Om daarna by die seremonile opening van die Parlement te wees was steeds 'n voorreg, maar die vertaling van die verrigtinge het my 
gestonk. Sekere begrippe en ampsposte leen hulle net eenvoudig nie tot vertaling nie. Wat moet die Afrikaans wees vir "Gold Stick in 
Waiting", "Household Cavalry" en "Lord Chamberlain"? Dit is egter nie net 'n probleem vir Afrikaans nie. In enige taal gaan "House of 
Lords" die gevoel van die oomblik akkurater oordra as 'n vertaling soos "Britse Horhuis".

Dit is juis die oordra van die gevoel van 'n nuusgebeurtenis in jou moedertaal uit 'n vreemde land wat die grootste vervulling bied. Die 
uitdaging is om luisteraars wat geen ervaring van di land het nie, te laat voel hulle verstaan die gebeure en die omstandighede waarin dit 
plaasvind.   Andr Pretorius is 'n regstudent in Cambridge, Engeland, en medewerker van Punt.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5522.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

